Beste Alumni Dié jaar het omtrent met ʼn spoed uit die wegspringblokke gevlieg, en ons bevind onsself weliswaar alreeds in April! Gedagtig aan Akademia se jaartema, Afrikaans en tuis, is dit ons wens dat ons alumni vanjaar opnuut tuis sal wees in hul alma mater en só onlosmaaklik verbind bly tot alles wat dié instelling as vormingstuiste verteenwoordig. Die oomblik wanneer ʼn Fontie oor die kwalifikasieplegtigheidverhoog stap, verander die verhouding tussen die student (nou ʼn alumnus) en die instelling (nou die alma mater). En alhoewel daar ʼn skeiding kom met die fisiese plek waarin tasbare gemeenskapsgeborgenheid tot op hierdie stadium gehuisves was, sal daar nóóit ʼn breuk in hierdie wedersydse verhouding plaasvind nie – ʼn besonderse voorreg wat op ʼn besondere manier gekoester behoort te word. In die lig hiervan is die alumnikomitee daartoe verbind om elke alumnus in staat te stel én sodanig te begeester dat hy/sy trots hul plek binne dié verbondsverhouding sal inneem. Die jaar 2025 verteenwoordig ʼn gróót jaar vir die instelling en daarom óók vir sy alumni-gemeenskap. Hoogtepunte sluit onder meer in die instelling se dertiende jaar van klasgee, voorbereiding vir die vestiging van ʼn satellietkampus in die Paarl in 2026, die toevoeging van verskeie nuwe akademiese programme, die grootste kwalifikasieplegtigheid nóg én die voortsetting van die Toekomsbouer-veldtog. Hierbenewens word daar ook ʼn bedrywige alumni-geleentheidskalender in die vooruitsig gestel. Hou gerus die instelling se sosiale media dop vir nóg hoogtepunte en opwindende gebeure. |