Beste Alumni Dié jaar het omtrent met ʼn spoed uit die wegspringblokke gevlieg, en ons bevind onsself alreeds in April! Dit is ons wens dat ons alumni vanjaar die waarde van tyd sal besef. Tyd is immers méér as sekondes, minute en ure. Die waarde van tyd lê dieper en word ontsluit in die verbondenheid wat elkeen ervaar – in jou gesin, die gemeenskap en daar waar jy as Akademia-ambassadeur ʼn verskil maak. Die Britse skrywer, Arnold Bennett, som die ewigheidswaarde van tyd mooi op deur te sê dat tyd die onverklaarbare rou materiaal is waaruit alles bestaan. Tyd maak alles moontlik, en volgens Bennett word geluk bepaal deur die manier waarop elkeen van ons die 24 uur wat daagliks aan ons beskikbaar gestel word, aanwend. Neem dus sommer vandag nog ʼn wilsbesluit om die tyd tot jou beskikking uit te koop! Akademia fokus vanjaar op verbondenheid as tema. Die instelling koester verbondenheid, nie net as ʼn institusionele kernwaarde nie, maar ook as die spreekwoordelike goue draad waaruit ons bestaansrede verweef is. Wanneer dit kom by verbondenheid omarm ons die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, die gesin en roepingsgedrewe personeel. Dit stel ons voorts in staat om vanuit die Christelike geloof en denke beroepsgerigte opleiding, akademiese vorming en ʼn gesonde studentelewe deur moedertaalonderrig aan ons studente te bied. In kort: verbondenheid rig én stuur alles wat ons by Akademia doen. Dit maak dit vir ons moontlik om nougeset, soos deur die begronding van die klassieke universiteitswese bepaal, ons erkenning en belewing van die ware, die goeie en die skone voort te sit. Op hierdie manier streef ons na ʼn hoopvolle toekoms. Akademie vier vanjaar sy twaalfde verjaarsdag, en dié viering gaan gepaard met hoogtepunte soos die bekendstelling van twee splinternuwe koshuise, die ingebruikneming van die Leriba-kampus vir klasdrafdoeleindes en die bekendstelling van die BA (Taalstudies)-program in die Fakulteit Geesteswetenskappe. |