Beste Akademia-alumni Hartlike groete vanuit Akademia se Registrateurskantoor. Kan julle glo dat ons al die jaar se halfpadmerk oorgesteek het? Ons instelling se jaarkalender is volgepak, maar ons staan dankbaar teenoor ons Skepper vir die groot genade en seën wat ons elke dag uit sy hand ontvang. Psalm 16:5-6 herinner ons opnuut aan dié seëninge soos dit binne die mure van Akademia ontvou en daagliks sigbaar is: "Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ʼn Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi." Hierdie vers beskryf die gees van ons onlangse kwalifikasieplegtigheid op ʼn pragtige wyse. Tydens die geleentheid, wat voorwaar ʼn hoogtepunt op ons jaarkalender is, kon ons eerstehands die vreugde, hoop en opgewondenheid in die harte van ons afgestudeerde studente waarneem, soos hulle die volgende fase van hul lewens betree, toegerus met kennis, vasberadenheid en ʼn diep sin van doelgerigtheid. Binne die bladsye van die nuusbrief poog ons om elke alumnus op hoogte te hou van gebeure en nuwe verwikkelinge aan die instelling, asook dit waaraan Akademia tans bou. Elke insetsel verteenwoordig die vrug van die saad wat ons daagliks besig is om te saai vir die volgende geslag. Ons hou julle graag op hoogte oor onlangse ontwikkelinge binne die instelling, insluitende opwindende inisiatiewe en belangrike mylpale wat deur ons huidige studente en personeel behaal is. |